zaterdag, maart 05, 2005

Hitte laat mens en dier snak na asem (Die Burger, 05/03/2005)

KAAPSTAD. - Onuithoudbaar. Dit voel asof iemand 'n oond aangeskakel het. Die hitte brand die laaste druiwe weg.

Só het inwoners van die Wes-Kaap gister die hoë temperatuur bestempel wat die grootste deel van die streek getref het. Verskeie brande het voorgekom in die provinsie, wat gebuk gaan onder 'n droogte en waterbeperkings wat van die ergste in jare is.
Die Kaapse weerkantoor van die Suid-Afrikaanse Weerdiens voorspel verligting vir die Skiereiland en Weskus oor die naweek met 'n skrale moontlikheid van reën Maandag. Inwoners van die Breërivier en Klein-Karoo se woordeskat om die hitte te beskryf, sal vandag nóg meer beproef word.
Mnr. Rian Smit, weervoorspeller in Kaapstad, het gesê dit behoort darem teen môre heelwat koeler te wees.
'n Temperatuur van diep in die dertig en iets in die veertig het mens en dier gister laat sweet en na die asem laat snak. In die Kaapse middestad het die temperatuur tot 35,9 OC gestyg, in die Paarl tot 37,6 OC, op Malmesbury 35,7 OC en op Vredendal 40,2 OC.
Mnr. Truter de Kock, voorsitter van die landbouvereniging op Malmesbury, het soos vele ander gesoek na die regte woord om die hitte te beskryf. Volgens hom het die "hitte die laaste druiwe weggebrand".
Alicia Erasmus, Die Burger se korrespondent op Clanwilliam met sy 43 OC, het gesê 'n kragonderbreking op die dorp het veroorsaak dat 'n mens nie eens 'n waaier kon aansit nie. "Dit voel of iemand 'n oond aangeskakel het en vergeet het om dit af te sit. Ek dink dit sou 'n goeie idee wees as iemand T-hemde met 'Ek het Clanwilliam oorleef' laat druk en aan toeriste verkoop!"
Mnr. Godfrey Saal van Springbok se weerkantoor het gesê dit is al die hele week "verskriklik warm".
Volgens me. Eleanor Middleton van Beaufort-Wes het die kwik gister op dié dorp ook tot 43 OC gestyg.
Sy het gesê die beste plan is om te gaan swem en dan met nat klere rond te loop.
Mnr. Len Slater, 'n onafhanklike korttermynvoorspeller, het gesê Februarie en begin Maart is tradisioneel die warmste tyd van die jaar. Die hoë temperatuur is nie abnormaal vir hierdie tyd van die jaar nie.
Me. Elana Bosman van Worcester, waar die middagtemperatuur 37 OC was, het gesê die hitte is "onuithoudbaar". Me. Yolanda de Villiers van Franschhoek (38 OC) het gesê dit is baie erg en die mense in die wingerd kry swaar.
Die weerkantoor het gewaarsku dat die warm en winderige toestande wegholbrande kan veroorsaak.
Dié waarskuwing is na die Breëriviervallei en Klein-Karoo uitgebrei.
Brandweerspanne van die Kaapse Skiereiland, Boland en Overberg het vandeesweek probleme gehad met brande op Papegaaiberg op Stellenbosch, teen die berghange bo Houtbaai en in die omgewing van die Sir Lowryspas.
'n Huis en kothuis op die plaas Journey's End by Sir Lowry's Pass het Donderdag afgebrand toe 'n brand wat in die Knorhoek-omgewing ontstaan het, versprei het, het Edna Isaacs berig.

Geen opmerkingen: