zondag, juli 16, 2006

Opnieuw een Zuid-Afrikaanse kijk op Nederland.

Nederland kort ‘groot’ manne en vroue (Die Burger, 15 julie 2006)

Politieke partye in Nederland begin hul vere regskud vir die algemene verkiesing op 22 November 2006. Hierdie skielike verkiesing gaan nuwe elemente in dié land se politieke styl openbaar wat nooit vantevore ’n sterk rol gespeel het nie: die rol van die leier as individu, skryf MARINUS WIJNBEEK.

DIE kiesers wil dit hê, die politici in Den Haag gru by die gedagte. Hulle voel aan dat hul bevoorregte onderlinge politieke speletjies gaan verdwyn.
Die tweede Balkenende-kabinet het geval. Maande lank het die parlement onrustig gekap-kap in die rigting van veral minister Verdonk. Sy hanteer die departement vir immigrasie- en naturalisasiesake.
Op haar bord lê al die vrot eiers van die vorige regerings se swak hantering van asielsoekers en onwettige vreemdelingprobleme. Haar harde hantering van die sake is aangegryp om tydig en ontydig parlementêre debatte oor die hantering van individuele sake te vra om dan vervolgens die hele regering by te kom. Dié keer het die kleinste koalisievennoot, die uitgesproke linkse D66-party, die mat oor Verdonk onder die koalisie uitgetrek – en dít oor ’n saak wat nie eens in die parlement hoort nie.
Die minister was reg, formeel reg. So werk politiek egter nie. In die Nederlandse politiek gaan dit nie oor reg en verkeerd nie maar oor die “skyn” om ’n saak. Die minister “lyk” te hard en daarvan hou die Nederlanders nie. Hulle wil altyd “vriendelik en behulpsaam” wees. Die leier van D66 is ’n dame wat die leierstryd van ’n week vantevore binne haar party met ’n klein kerfie verloor het. Nou het sy vir oulaas haar tande gewys, haar partygenote in die parlement gemobiliseer, en steun aan die koalisie onttrek.
’n Minderheidsregering gaan verder, weer eens onder leiding van premier Balkenende. Die volk gaan op 22 November na die stembus, maar nie voordat die huidige kabinet die vrugte van sy eie beleid kan pluk nie. In daardie opsig het die linkse dame en haar ander rooi vennote geen sukses behaal nie.

MAAR wat is daar dan bereik?
Dít is presies die vraag wat die meeste kiesers hulself vra. Was hierdie ding regtig nodig? Nee, sê baie, dit gaan nie oor beleid nie. Die land het skade opgeloop deur hierdie kleinsielige en selfsugtige optrede van politici. Vra mens: maar wat dan nou? Dan weet die kiesers ook nie. Hulle sal maar gaan stem, maar vir wie? ( Die oorgrote persentasie van Nederlandse kiesers behoort nie tot ’n politieke party nie.)
Die openbare reaksie is simptomaties van ’n kieserspubliek wat verward is. Nederland het nie leiers wat vertroue wek en die toon kan aangee nie. Nederland het alleen maar kibbelende politici in Den Haag wat hul eie speletjies speel.

IN Nederland word setels in die parlement verdeel ooreenkomstig die persentasie stemme op ’n party uitgebring. Elke party het ’n lys name van kandidate wat die banke kan vul X die belangrikste bo en die onbelangrikste onder. Die naam boaan die lys word deur die partyhiërargie aangewys en is die sogenaamde lystrekker. Die lystrekker word ook die leier van die party en is die “gesig” van ’n party. Die huidige lystrekkers is meestal swak manne en vroue wat geen respek afdwing nie.
Die Haagse beroepspolitici voel al lank aan dat daar probleme is. Hulle wou ’n meer demokratiese beeld gee. So is vir die eerste keer in die Nederlandse geskiedenis lystrekkers van ’n paar partye deur die lede van die party gekies en nie meer deur die sterk manne agter die skerms benoem nie. Die resultaat was verrassend. Die D66 kies toe nie die huidige leier in die parlement nie. Ook die VVD se lede, die party van die verguisde Verdonk, het nie Verdonk gekies nie, maar ’n persoon wat nie eens sitting in die parlement het nie! Daarteenoor toon die een meningspeiling dat die D66-rissiepit deur die kiesers verwerp word, maar Verdonk op byna 50% van die kiesers se steun kan reken! Dat daar groot fout is, is duidelik. Kiesers loop ’n ander pad as die politici en die lede van afsonderlike partye.

ALLE aanduidings wys in die rigting van ’n verskuiwing onder die kiesers. Hulle soek leiers wat sterk, duidelik en reguit is. Verdonk is een van hulle. Hierdie verskynsel is nuut in Nederland. ’n Paar jaar gelede het Pim Fortuyn enorme opgang gemaak om presies dieselfde redes: hy was reguit, het hom nie aan die politieke elite gesteur nie en het verbeeldinge aangegryp deur kragtige, helder stellings wat vir almal begrypbaar is. Hy is vermoor.
Tradisioneel word Nederlandse politiek op basis van beginsels gevoer. Daardie gety het gedraai. Sommige kommentators verwag ’n grondverskuiwing voor die verkiesing. By gebrek aan sterk leiers van partye gaan kiesers in toenemende mate begin identifiseer met persone soos Verdonk (regs) en met strominge soos links of regs, liberaal of konserwatief. Die tradisionele, uit beginsel navolger-sosiaal-demokraat of -Christen-demokraat, gaan ’n klein minderheid word.
Die rede vir die verandering in voorkeur by die kiesers is die gevoel van groeiende onsekerheid oor die toekoms. Dit is ’n Europese verskynsel. Daardie politici wat duidelike geluide laat hoor wat tot die gewone mense spreek, populisme noem sommige dit, hulle word die leiers van môre. Plotseling is daar ’n herwaardering van leierskap.

’N BAIE bekende en hoogs gerespekteerde VVD-politikus uit die jare tagtig het eendag aan my gesê: “Wijnbeek, daar in die RSA het julle groot probleme en dus ook groot manne en vroue. Hier in Nederland het ons klein probleempies en dus klein mannetjies en vroutjies aan die roer van sake.” Hy was reg. Nou het hierdie land weer eens groot mense nodig en hulle ontbreek.

Geen opmerkingen: