zondag, maart 12, 2006

Uit de krant: recensie Bryan Adams consert

Hier is de recensie van het Bryan Adams concert:

Adams betower gehoor
jeanne hugo
ROCKKONSERT: Bryan Adams Room Service-toer. Kirstenbosch- Botaniese Tuin. Tot môre.
KYK, enigiemand wat op die ouderdom van 46 op ’n verhoog kan stap (stiptelik om 20:00, ’n baie goeie ­teken), begin sing, en 24 liedjies later steeds ’n skare piekniekgangers op hul voete het, verdien applous .
En dít het die Kanadese rocker Bryan Adams gekry, asook ’n paar welverdiende encores. Die enigste haakplek van die aand was dat die twee groot skerms langs die verhoog nie regtig gewerk het nie, maar ­gelukkig was die musiek goed ­genoeg om daarvoor te vergoed.
Ek is ’n getroue Adams-aanhanger. Ek het eintlik eers in 1994 die eerste keer van hom gehoor toe sy “(Everything I do) I do it for you” die hoogte in geskiet en veroorsaak het dat ’n menigte van die vroulike ­geslag hul hart op Kevin Costner verloor deur die film Robin Hood X Prince of Thieves.
Deur die jare – en hy is al lánk op die toneel – het hy met die een treffer na die ander gekom, en tot my groot vreugde het hy ’n klomp guns­telinge Maandagaand gespeel.
Hy begin, heel gepas, met die liedjie “ So far so good ”, gevolg deur die energieke lied “Room Service”, ook natuurlik die titel van sy jongste ­album. Teen die derde lied sing die gehoor al lustig saam – soos dié lied sê: Ons het immers almal iemand nodig.
Ná die vierde lied neem hy eers ’n oomblik om te groet. Dit is sy vyfde besoek aan Suid-Afrika, ­beklem­toon hy, “en dit is lekker om terug te wees”.
“This Time” en “Open Road” word gevolg deur die immer gewilde “18 till I die ”, aangevul deur ’n paar uitstekende solo’s op die elektriese kitaar deur Adams se ou vriend Keith Scott, sy “linkerhand”.
Swaarder liedjies soos laas­genoemde word goed afgewissel met rustiger ballades soos “Let’s make it a night to remember ”.
Dit moet gesê word dat hier geen fieterjasies is nie. Soos Adams tereg opmerk: vir hulle gaan dit oor die musiek. Hulle kom op en speel die een treffer ná die ander, sonder om asem te skep, nie ’n enkele noot uit plek nie. Sulke professionaliteit het ek lanklaas op ’n verhoog aanskou.
Adams se stem en persoonlikheid het steeds niks van hul trefkrag ­verloor nie. Daardie unieke, hees stem kom veral baie mooi deur in die rustiger liedjies, hoewel daar geen fout gevind kan word met die meer ­intense vertolkings nie.
Ook sy interaksie met die gehoor dra veel by tot die vertoning. In een stadium nooi hy ’n jong student uit die gehoor om die lied “When you’re gone” saam met hom te sing – ’n waagstuk as ’n mens in ag neem hoe vrot sy sangmaat dalk net mag sing. En hoewel hierdie student inderdaad toe veel meer entoesiasme as talent blyk te hê, was dit duidelik dat Adams dit net soveel soos sy ­geniet het.
Van die hoogtepunte van die aand sluit in ouer nommers soos ­“Summer of ’69”, die pragtige “ I’m ready ”, “Cloud #9 ” en “Heaven “. Ná ’n kragtige “The only thing that looks good on me is you” en “Run to you ”, betree Adams die laaste keer die verhoog – dié keer net met sy kitaar, en sluit af met “Please forgive me” en toe ’n pragtige ­vertolking van “All for One”. Hierdie is een musikant wat ooglopend tuis is – en hoort – op die verhoog.

Geen opmerkingen: