zondag, april 09, 2006

Nederland gezien door een Zuid-Afrikaanse bril

Afgelopen week stond er bij ons in de krant weer een redactioneel artikel over Nederland. Wederom een verhaal om niet echt vrolijk van te worden. Dit soort informatie publiceer ik hier overigens niet omdat ik het er mee eens of oneens ben, maar puur vanuit een standpunt dat ik het interessant vind hoe men hier tegen mijn vaderland aankijkt.

Nederlandse idealisme byt nou in die stof

NEDERLAND en Frankryk is op die voorpunt van die nuwe anti-EU-sentimente. ’n Wêreld-ekonomie waarbinne globalisering die botoon voer en die nasionale staat sy dominansie verloor, dwing albei lande tot realisme. Die Nederlandse kieser staan van aangesig tot aangesig met die gevolge van sy eie drome. Die betekenis van die onlange plaaslike verkiesings het tot die media en die man in die straat deurgedring. Die partye wat gekant is teen die uitwerking van die harde werklikhede van internasionale kompetisie en die EU-dwang tot hervorming, het die meeste stemme getrek.Die verkiesingsdebatte het gehandel oor die verlies van werkplekke omdat bedrywe na goedkoper lande verhuis, die “armoede” onder die swak en ongeskoolde lae van die bevolking en die verlies aan sosiale versorgingsvoordele omdat die regering uitgawes besnoei. Daarby is daar die probleme met die integrasie van die immigrante wat maar net nie wil vlot nie. Die man in die straat verlang terug na “die goeie ou dae” van sosiale harmonie toe die eie staat met ’n gul hand voorsien en alles van die wieg tot die graf versorg het. Die politici wat op hierdie sosiale soustrein-sentiment getokkel het, weet weinig raad met die werklikhede. Die leier van die PvdA (Arbeidersparty), Wouter Bos, wat na verwagting aanstaande jaar eerste minister sal word, het op besoek aan Indië harde lesse geleer. Die ekonomieë van Indië en China bedreig Europa en Nederland direk. Die koste van Nederlandse en ander EU- werkers is gewoon te hoog gemeet aan produktiwiteit. Groot bedrywe soos Philips verskuif arbeidsintensiewe aanlegte na Oos-Europa, China en Indië. Die owerheid staan magteloos. Laag geskoolde mense vind dit toenemend moeiliker om werk te vind. Die EU dwing nasionale grense oop om meer kompetisie toe te laat. Besuinigings bly nodig. Die hervorming van die versorgingstaat tot ’n samelewing gerig op individuele verantwoordelikheid is onontkombaar. Plotseling het die groot vakbonde stil geword en hul weerstand teen hervorming in Nederland laat vaar. Het êrens ’n sweep in die polders geklap?Die meeste armoede en werkloosheid in Nederland is te vinde onder die een miljoen mense van Turkse, Marokkaanse en Antil­liaanse afkoms (allochtone). Dié mense is in die reël swak opgelei. Intussen het baie van hulle Nederlandse burgerskap verkry en die eerste keer in groot getalle gestem. Dit was veral die PvdA wat uit hierdie bron stemme getrek het; 80% allochtone steun die PvdA! Dié mense het verder gegaan en lede van die party geword en as kandidate gaan staan. ’n Buitengewone aantal is verkies tot stadsrade landwyd. Die oorsaak hiervan is te vinde in die Nederlandse stemstelsel. Die kieser stem gelyktydig vir die party en die kandidaat van sy of haar keuse. Die allochtone het vir hul manne en vroue alleen gestem.Die gevolge is sigbaar. By die groot publiek het die party se naam van Partij van de Arbeid in “Partij van de Allochtonen” (albei PvdA) verander. Die reaksie hierop is voorspelbaar. Die Nederlander is dan nie ’n rassis nie; nee, hy of sy hou alleen maar meer van sy eie mense.Dit kan enorme gevolge hê vir die algemene verkiesings aanstaande jaar. Dit is juis hierdie mense wat die meeste voordeel uit die versorgingstaat trek! Twee Nederlandse drome het geboemerang. Die eerste is die deelname aan die EU, waarvan Nederland een van die stigterslede is. Daardie einste EU van hul drome word nou die nagmerrie wat aan die voorsê is. Vir die Nederlander gaan dit te ver; húlle wil voorsê. Die werklikheid dwing. Wil die land en die EU in die aangesig van die harde kompetisie uit China en Indië en die groeiende tegnologiese gaping met die VSA oorleef, dan moet besnoei en saamgewerk word.Die tweede flenterdroom: Nederland wou so graag ’n harmonieuse multikulturele samelewing wees, beroemd vir sy verdraagsaamheid en welvaart vir almal. Nou wil daardie einste vreemdelinge binne die poorte oorneem. Die harmonie is versteur. Die samelewing het permanente vreemde elemente waarvan die groot meerderheid op die sosiale versorgingstaat teer. Hoe keer ’n mens hierdie vreemde stroom en kragte?Frankryk loop dieselfde pad. Die Franse sien hulself so graag as base van Europa en die EU as die agentskap wat Franse belange moet dien. Hulle is tog een van die wêreld se groot magte! Nou begin die EU met sukses die Franse dwing om hul ekonomie te hervorm en die versorgingstaat te verklein. Die Franse werkers en studente is in opstand. Die verwilderde jeug van buitelandse afkoms terroriseer die voorstede. Die knusse en gemaklike Europa is iets van die verlede. Die vreemdelinge uit veral Afrika word ’n bedreiging. As nie vinnig hervorm word nie, gaan Europa sy leiersposisie in die wêreld verloor en daarmee saam sy ekono­mie­se welvaart.

Marinus Wijnbeek is ’n medewerker van Die Burger in Nederland.

Geen opmerkingen: