zondag, mei 28, 2006

Nederland soek eie identiteit binne EU

Afgelopen week (23/05) stond er hier weer een redactioneel artikel in de krant (Die Burger) over Nederland, ditmaal naar aanleiding van de 4/5 mei viering:

Nederland soek eie identiteit binne EU

’N BAND met die verlede is noodsaaklik vir enige herkenbare groep in ’n samelewing. Die verlede is die wortel in die werklikheid waarop die onderlinge bande wat ’n groep bymekaar hou, stoel. Nasionale state en groepe slaan veral in tye van onsekerheid en spanning historiese gebeurtenisse en die wete van ’n “gedeelde erfenis” hoog aan. Die moderne Nederland het net een so ’n gebeurtenis.Vir die deursnee-Nederlanders gaan kennis van die geskiedenis terug tot die Tweede Wêreldoorlog. Die lang verhaal van die ontstaan en groei van die Nederlande sedert die Middeleeue word nie meer op skool onderrig nie. Die leerlinge kry nie meer te doen met verloop deur die tyd nie, maar met temas deur die tyd. Die totale storie is vergete.Op 4 Mei herdenk Nederland die mans en vroue wat hul lewe in die Tweede Wêreldoorlog en die vredesmissies daarna verloor het. Op 5 Mei vier die land die bevryding aan die einde van die oorlog. Dit is ’n plegtige gebeurtenis. Sprekers gryp die geleentheid aan om die gebeure uit die oorlogsverlede te gebruik om hul visie vir ’n “beter” toekoms te verkondig. Daardie ideale sluit meestal die afkeer van verdrukking, die regte van die mens en die uitbouing van die demokrasie in. Maar die mense wat destyds die hoogste prys vir die vryheid betaal het en oor wie die herdenking ten eerste gaan, het nie aan hierdie sake gedink nie. Inteendeel, hulle wou alleen die Duitse en Japanse verdrukkers verdryf en onafhanklikheid en vryheid herwin. Deesdae is alle Nederlanders jonger as 61 jaar ná die oorlog gebore. Net diegene ouer as 67 kan miskien iets onthou. Die geheues vervaag, en die aangeleerde kennis neem oor. Een voorbeeld: ’n Ondersoek het aan die lig gebring dat jong Nederlanders van vandag glo dat die massamoord op die Jode die oorsaak van die oorlog was. Dit is onwaar. Alles wat voor 1945 gebeur het, is vir moderne Nederlanders ’n vae “ander wêreld” waarvan die samehang met die hede onbekend is. Dit beteken ook dat moderne Nederlanders se identi­teit hoofsaaklik na-oorlogs bepaal is. As ’n mens jong Nederlanders daaraan herinner dat ’n Paul Krugerstraat (en daar is baie in Nederland) genoem is na ’n bekende Afri­ka­ner wat 100 jaar gelede in Nederland baie geliefd was, weet hulle nie waarvan jy praat nie. “Was Nederland ooit pro-Suid-Afrika?” het een my met verbasing gevra. By die nasionale monument op die Dam in Amsterdam het die koningin, politieke hoogwaardigheidsbekleërs en oudgediendes op 4 Mei kranse gelê. Op die TV was programme wat grotendeels oor die Jodevervolging gegaan het. Die TV het die verkeerde beeld by die jongeres herbevestig. Die volgende dag het ongeveer 800 000 mense die bevrydingsfeeste oor die land heen bygewoon.Waarom staan die oorlogsverlede (1940 tot 1945) dan so sentraal in die nasionale ervaring? Die antwoord is verbasend: Nederland het geen ander dae waarop iets herdenk word nie! Die rede is eenvoudig: Die koninkryk Nederland bestaan nog nie 200 jaar nie, en die huis van Oranje dra die kroon niks langer nie. Voor 1814 was Nederland ’n klein republiek van ’n paar byna onafhanklike en onbelangrik geworde provinsies. Wat gewone ouer Nederlanders hul “vaderlandse geskiedenis” noem en waarvan baie dink dat dit terugstrek tot ongeveer die jaar nul, het weinig direkte betrekking op die huidige Koninkrijk der Nederlanden. Die koningshuis is nie direkte afstammelinge van Willem van Oranje uit die 16de eeu nie. Die goue eeu (die 17de) waarin die toenmalige Nederlande ’n internasionale handelsmag was, het net betrekking gehad op sewe van die huidige twaalf provinsies. Die nasionale bewussyn van ná 1815 is kunsmatig vanaf die einde van die 19de eeu gekweek via patriotiese geskiedenisonderrig. In die afgelope minder as twee eeue van koninkryksbestaan het Nederland maar een werklike krisis ervaar: die Tweede Wêreldoorlog. Afgesien van ’n klein skermutseling in die 1830’s wat op die ontstaan van die koninkryk België uitgeloop het, was Nederland in die 19de eeu ’n rustige en relatief geïsoleerde land wat sy bestaan uit kolonies en landbou gemaak het. Dit het geen belangrike rol in die Europese politiek gespeel nie. Van die 20ste eeu se groot konflikte was WO II die eerste traumatiese gebeurtenis wat Nederland vierkant getref en in sy fondamente geskud het.’n Oorlogserfenis is ’n afsku van alles wat aan nasionalisme herinner. (Duitsers was nasionalisties, en nasionalisme is die oorsaak van oorloë en konflik.) Nederlanders sien hulself as vredeliewende mense wat vreemdelinge verwelkom. Dít is in skole en via die media sedert die 1960’s gekweek as reaksie op die “vaderlandse geskiedenis” van vroeër. Nou soek Nederland sy eie identiteit binne die groter geheel van die EU. Daar is iets weg, meen baie. Iets van ’n emosie, iets van ’n warm gevoel vir die eie wil-wil na die oppervlak kom. Daar is net een gebeurtenis waarby dit aan die orde kan kom: die herdenking van die oorlog. En namate die ouer mense sterf, verflou ook dít gaandeweg.

Geen opmerkingen: