zondag, februari 24, 2008

Afgelopen week hier in de krant:

Het volgende redactionele artikel troffen we deze week hier in de krant (Die Burger) aan. Een vergelijking tussen het Nederlandse en Zuid Afrikaanse onderwijsbeleid.

Nederland hou lesse in vir Suid-Afrika
21/02/2008 09:26:08 PM - (SA)

ALMAL het politieke oortuigings. En nie almal stem altyd saam nie.

Dit is gesond so, want slegs in die ope debat en koppestamp wat ’n demokrasie kenmerk, kan ’n samelewing vooruit beweeg.

Die probleem kom wanneer een groep sy politieke oortuigings gaan verabsoluteer. Wanneer hy nie erken dat ook iemand anders reg kan hê nie.

Wanneer die oortuigings die plek van gesonde verstand inneem en aan jou voorskryf hoe die werklikheid behoort te lyk, pleks daarvan dat dit die werklikheid verhelder. Dan ontaard oortuigings in ’n ideologie, en dan flikker die gevaarligte.

Tienduisende Suid-Afrikaanse ouers is die laaste tyd opnuut bekommerd gelaat oor die agteruitgang van die Suid-Afrikaanse onderwys en die toenemende geweld in skole. Tereg, want onderwys en opleiding is waarskynlik die belangrikste fondament wat die toekoms van die land gaan bepaal.

’n Voorbeeld van hoe ’n ideologie die onderwys kan verwoes, is die laaste tyd gegee in een van die suksesvolste lande ter wêreld, naamlik Nederland. Daar het ’n parlementêre veelparty-kommissie van ondersoek onder voorsitterskap van die sosiaal-demokraat mnr. Jeroen Dijsselbloem ’n vernietigende oordeel oor die stand van die land se onderwys uitgebring.

Die kinders kan nie meer behoorlik lees en somme maak nie, was die gevolgtrekking. Hulle kan nie spel nie, en hulle vaar sleg in begripstoetse.

Dit alles hou aansienlike gevaar in vir Nederland as een van die wêreld se grootste handelslande, een met ’n tradisie van honderde jare. Sy internasionale mededingingsvermoë staan op die spel.

Hoe kon dit so ver kom? Die antwoord lê in die woord ideologie.

Sedert die jare sestig het ’n ideologiese golf oor Nederland gespoel wat van hom een van die mees polities korrekte lande ter wêreld gemaak het. Die linksgesindes was onkeerbaar aan die opmars en het dikwels ’n ware intellektuele terreur teen andersdenkendes (lees konserwatiewe) gevoer.

Ek het in die sewentigerjare as student in Leiden baie hiervan meegemaak.

Die revolusionêre inisiatief is beliggaam in die leuse wat die linkse kabinet van die premier Joop den Uyl in dié tyd gehanteer het, naamlik die “spreiding van mag, besit, inkomste en kennis”. En dit moes ook in die onderwys neerslag vind.

Tot in die jare sestig was die Nederlandse onderwys, toegegee, taamlik elitêr.

Die ryk elite het sy kinders na die klassieke gimnasium gestuur, waar hulle deeglik geskool is in Grieks, Latyn, Frans, Duits, Engels, wiskunde en wetenskap. Die armer mense se kinders moes na relatief minderwaardige skole gaan.

Om dié onbetwisbaar ongesonde situasie te verander het veral die Den Uyl-regering tot die ander uiterste gegaan. Die gimnasia is toenemend afgeskaf, en die kinders is in sogenaamde middeskole saamgevoeg.

Behalwe dat die middeskole by wyse van spreke reusagtige fabrieke geword het, is kinders se natuurlike ongelykheid wat betref intelligensie, aanleg en talente ontken. Almal moes gelyk wees, ongeag die werklikheid, en alle ongelykheid is toegeskryf aan die sosiale ongelykheid in die samelewing.

Dit was die tipies sosialistiese idee dat die samelewing deur ingryping van bo soos klei gevorm kan word. Soos ’n onderwysdeskundige dit onlangs in die gesaghebbende NRC Handelsblad gestel het:

“Die politieke ideoloë en hul onderwyspedagogiese vriende het die arrogansie gehad om Nederland te behandel as ’n laboratorium vir hul idees oor mens en samelewing.”

Dit is die kern van die saak. En dus kom Nederland tans tot sy ontsteltenis agter dat vorige geslagte se maatskaplike manipulasie tot rampspoedige uitkomste gelei het. Praat van uitkomsgebaseerde onderwys!

Is iets soortgelyks nie ook in Suid-Afrika aan die gang nie?

Niemand kan ontken dat die onderwyssituasie van voor 1990 – en onthou, dit was ook die gevolg van ideologies gedrewe manipulasie – pedagogies ongesond was nie. Ook nie dat dit reggestel moet word nie.

Maar in die proses het veral die vorige minister van onderwys, mnr. Kader Asmal, geweldige skade aangerig. ’n Mens dink aan uitkomsgebaseerde onderwys, ’n goeie idee waarvoor die onderwys nie naastenby ryp was nie, maar ideologies ryp gedruk is.

’n Mens dink aan die aftakeling van moedertaalonderwys, gebaseer op die ANC se ideologies gedrewe aanbidding van Engels.

Onder min. Naledi Pandor gaan dinge effens beter, maar soos verskeie verslae die laaste tyd uitgelig het, dit gaan nog baie sleg. En pleks dat die slegte onderwys van die histories swart skole verbeter word, word die relatief goeie onderwys van die histories wit skole afgebreek.

Soos Nederland gaan Suid-Afrika nog ’n duur prys hiervoor betaal.

Geen opmerkingen: