maandag, maart 02, 2009

Hittegolf gaan kraaie dié week behoorlik laat gaap in W-Kaap

01/03/2009 10:36:42 PM - (SA)

Die hittegolf wat die Wes-Kaap tans teister, is nog nie verby nie.

Ofskoon die weerkantoor voorspel dat die temperatuur vandag effens laer as die afgelope naweek kan wees, gaan die kwik die res van die week weer styg.

Ná gister se 34 °C by die Kaapstadse Internasionale Lughawe sal dit Woensdag en Donderdag weer die hoogte inskiet, volgens mnr. Niek Koegelenberg, ’n voorspeller by die weerkantoor.

Teen die naweek word temperature van by die 35 °C verwag.

Intussen saai veldbrande steeds ontwrigting en verwoesting in die Boland en die Helderberg-streek.

Jan Gerber berig die brand wat die afgelope drie weke in die Helderberg woed, het Saterdagmiddag weer opgevlam en geboue op die spogplase Vergelegen en Fleur du Cap beskadig.

Op Fleur du Cap het twee huise in die slag gebly en op Vergelegen die ontspanningsentrum. Teen druktyd kon die omvang van die skade nie vasgestel word nie.

Voorts het daar ook in die berge in die omgewing van Sir Lowry’s Pass Village ’n brand gewoed.

Smit het gesê ’n stormsterk wind het die probleme veroorsaak. “Die wind hardloop rond met die mense.”

Volgens me. Liezl Moodie, se­nior brand-en-redding-kommunikasiebeampte, het brande wat gister weer by Vergelegen en naby Lourensford se saagmeule opgevlam het brandbestryders se aandag geverg.

Brandbestryders was ook in die High Riding-gebied van Sir Low­ry’s Pass Village besig, maar dit was hoofsaaklik bevogtiging.

Teen druktyd was geen eiendom beskadig of bedreig nie.

Die Cape Classic-konsert wat ­Saterdag op die wynlandgoed Vergelegen by Somerset-Wes gehou sou word, is Saterdagmiddag inderhaas na Stellenbosch geskuif weens ’n vernietigende veldbrand.

Die eienaars van die landgoed het die organiseerder, me. Gabi Zahn, omstreeks 15:00 laat weet dat die plaas deur die brand bedreig word en dat die konsert nie meer aangebied kan word nie.

Mnr. Farouk Robertson, munisipale woordvoerder oor water en sanitasie, het gister gesê die ­metropool het eintlik nog heelwat water in die damme as gevolg van ’n goeie reënseisoen verlede jaar.


Geen opmerkingen: